The lourensbreytenbach.com BLOG

Newest stuff first. Scroll DOWN to see ....
Tuesday, September 13, 2016, 18:37 | No Comments »

Snoeiskêr                (‘n Kortverhaal deur Lourens Breytenbach)

 Vergewe asseblief die gebrek aan behoorlike leestekens. Lees maar net.

                                                                                                         13 September 2016

Carlos sit voor die deur van sy tuinwoonstel met ‘n snoeiskêr en ‘n stuk biltong. Hy staar na sy pêns. Die krakende plastiekstoel skop vas teen die sementblad wat graag ‘n stoep wil wees. As hy stadig opkyk is daar meer sement.

Wie het gedink pre-cast mure is oulik, dink hy. Dis erger as palisades: bliktronkstawe vir banggatte! ... Dun, versplinterde swaarde wat skaars ‘n hond kan inhou ... wat nog gesê ‘n dief uithou!

Maar Carlos is nie ontsteld nie. Hy glimlag met ‘n sug as hy opkyk en ‘n duif bo die muur sien verbyvlieg. Hy vat ‘n sluk van sy dop en ‘n trek van sy sigaret.

Vyf-en-flippen-veertig, dink hy. Ag dêmmit ... ek is middeljarig! Hy smeer sy stompie halfhartig teen die spinwiel en druk die knop van sy asbakkie. Die vonke verdwyn in nog ‘n pens in. Carlos blaas die rook geduldig uit. Hy kyk op en word getref deur die skrille, pragtige kontras tussen die blou van die lug bo hom en die skokkende, skielike groen van die bome daaronder.

Sy glas is vetterig. Ten minste is die biltong lekker. ‘n Geskenk van sy ou moeder vir sy verjaardag. Hy sny nog ‘n stukkie af met die snoeiskêr en kou lekker daaraan terwyl hy oor alles dink. Die potplante om hom is sy tjommas. Die opgerolde tuinslang lê onder die kraan – geduldig, rustend en dankbaar vir die ontkoppeling.

Skielik spring daar ‘n ding oor die muur voor hom. Dit beweeg vinnig en kap hom teen sy kop. Die laaste wat hy sien – terwyl hy ’n skerp pyn deur sy skedel voel skiet – is ‘n bloedstreep oor sy biltong ... en die snoeiskêr wat deur die lug trek.

Dis ‘n halfuur later. Carlos proe bloed deur sy oopgevlekte lippe. Alles is warm en taai. Sy oë werk nie deur die rooi nie. Hy is vasgemaak en lê omgedop. Hy sukkel om asem te kry. Sy kop klop van die pyn en adrenalien.

As hy uiteindelik probeer regop sit voel hy hoe die sement teen sy skouer skuur. Sy polse pyn en sy hande pof bloedrooi teen wat cable-ties moet wees – dit gly en knyp.

Dan hoor hy geluide in sy woonstel. Glase wat breek, kaste wat oop-en-toe kap en ... die gril-stem van sy aanvaller. Wat erger is ... Ta! is op sy foon – besig om met iemand te gesels. Die vermetelheid!

Hier gaan ek nie dood vandag nie, dink hy. Ek gaan nie uit-freak nie! En dan val dit hom by: hy is buite ... en die rower is binne ... hoe ironies!

Terwyl die dief sy huis omkeer, probeer Carlos om nie te raas nie. Maar in sy pogings om om te rol stamp ‘n potplant om. Sewe sekondes later en sewe treë verder kyk die rower by die voordeur uit en Carlos sien deur skrefies-oë hoe sy vyand lyk.

Dié kyk vir hom, sien dat hy nie beweeg nie, vloek hom, en gaan aan met sy plundertog binne. En sy klakkelose foongesprek.

Hier gaan ek uitkom, dink Carlos. Nou spuit die adrenalien meer as die bloed. Hy voel naarstigtelik rond met sy vasgebinde hande agter sy rug.

Dan ... hoe op aarde is dit moontlik ... voel Carlos sy snoeiskêr in die grond tussen die skerwe van die stukkende pot!

Hy sny homself los en vryf dadelik sy oë skoon met ‘n mou. Hy kyk rond. Dan deur die venster ... Ta! Is nogsteeds binne besig. Besig om te breek en praat!

Nou spoel Carlos stilletjies-kruipend, buite sig, sy hande onder die buitekraan af en was sy bebloede gesig. En dan sien hy deur die venster hoe die dief op sy bed staan en pie-pie. Nogal met die een hand. En met die ander een praat dit steeds op dit se foon.

Carlos kry vinnig sy gedagtes agtermekaar. Hy is rustig. Ek moet, dink hy, as ek hier klaar is, vir Ma bel om dankie te sê vir die biltong.

Sewe sekondes later en sewe treë verder tref ‘n ding die rower teen die kop.

‘n Halfuur later word Ta! wakker. Hy voel hoe bloed oor sy lippe en oë tap. Sy kop is seer. Hy is vasgebind.

Hi, sê Carlos. Jy’s seker honger. Is jy lus vir ‘n stukkie biltong?

Waar is my snoeiskêr?


Sunday, April 17, 2016, 21:48 | No Comments »

My newest projects include Regmerk.co.za and Tickmark.co.za. These new websites are the Afrikaans and English versions of my Mathematics help sites for learners in the senior phase (grade 7 to 9).

The aim of these projects is to help parents and teachers whose learners struggle with maths to get ahead. Visit my new websites for more info.


Tuesday, December 23, 2014, 09:21 | No Comments »

Welcome! This is my first blog post for my new website (Lourensbreytenbach.com). 

You can also see my old/previous blog here or follow me on Facebook and Twitter.


Copyright ©2019 Lourensbreytenbach.com, All Rights Reserved
This website may use Cookies
This website may use Cookies in order to work better. At anytime you can disable or manage it in your browser's settings. Using our website, means you agree with Cookies usage.

OK, I understand or More Info
Cookies Information
This website may use Cookies in order to work better. At anytime you can disable or manage it in your browser's settings. Using our website, means you agree with Cookies usage.
OK, I understand