The lourensbreytenbach.com BLOG
Ons het gedink 2016 was 'n moeilike jaar. Toe kom 2017. En dit was ook moeilik. Dit het vir my gevoel die hoogtepunte was laer en die laagtepunte ... um ... hoër!
Die wêreld was so vol drama! Die gewone skokke van elke dag was meer intens. En alles was so blêrrie uitputtend. Of word ek maar net ouer?
Maar ek wil dié jaar wat verby is nie weer oorhê nie. Ek is bly dis verby!
So hier is my DRIE wense vir jou vir 2018:
1) Mag jy en jou mense 'n gesonde, rustige, gemaklike en ontspanne jaar beleef.
Mag die bierjies en wyne (of water, koffie en tee!) soeter smaak. Mag jou kos lekkerder proe en die braaie langer .... Mag die oomblikke saam met jou vriende en familie werklikwaar aangenaam en vol liefde en waardering vir mekaar wees. Mag jou oomblikke van rus en privaatheid meer word. Mag jou Geloof versterk word deur die Heilige Gees se hulp.
2) Mag jy 'n beter werksjaar beleef.
Ek wens dat jy minder konflik, spanning en onnodige drama sal ervaar. Ek hoop dat jy sommer baie geld sal maak. En dat jy die geld wat jy wel verdien beter sal aanwend - meer pret daarmee sal hê. Ek hoop jy bou goeie verhoudinge met jou kollegas en vennote. En ek bid dat jou kliënte jou vir jou harde werk sal waardeer en beloon. Mag jy sommer baie werksbevrediging ervaar.
3) Mag ons land en ons wêreld 'n beter jaar beleef.
Mag korrupsie en leuens deur diens en waarheid vervang word.
Mag misdaad in jou wêreld vasgevat word. Mag jy en joune veilig en gelukkig in julle huise, karre en omgewings voel.
Mag die armoede en swaarkry deur voorspoed en welwillendheid vervang word.
Kom ons maak 2018 'n goeie een!