The lourensbreytenbach.com BLOG

Newest stuff first. Scroll DOWN to see ....
Tuesday, November 7, 2017, 21:35

Teleurstelling

 

Is wanneer jy onthou hoe pragtig jou ouma was

Hoe groot haar skoot was ... haar huis ...

vol brode en skaapvleis

en buite die hoenders

nefies en niggies; maatjies wat speel

en honde wat hardloop soos die wind!

 

Oupa se growwe wit snor

twak, pyp, die olie-ruikende skuur

en hooi, spasie en wit kalk op klipmure

 

die kragopwekker

die eerste trampolien

ons beddens was so hoog

en daar was nie duvets nie

 

niemand was alergies of hyper nie

die sterkste pil was ‘n disprin

of as jy amper dood was met hoofpyn ...

‘n KP-poeier

 

ek was so gelukkig en het fietsgery en geswem

my niggies was die mooiste girls op aarde

my nefies was die funste dudes op aarde

ek was een van hulle

 

My ma-hulle het my uitgelos op die plaas

Ons het buite gaan speel

Ingekom vir koffie, koeldrank en drukkies

Pap in die oggend

Beskuit en melktert teen teetyd

‘n bak vol koue vleis en brood met kaas en konfyte

Lekker gekookte kos in die aand

Altyd roomys voor slaaptyd

 

Daar was nie rekenaars of slimfone of iPads of DSTV nie

Daar was nie Exploras of Gigs nie

En mense het nie regtig so baie gepraat nie

Maar die stories was mooi

My mense het lekker gelag

 

en ek het so uitgefreak oor die pispotte onder die beddens!

 

en ons het donker gehad; ons het stilte gehad

maar die plaas het nie eers ‘n hek gehad nie!

... daar was niks palisades nie

daar was nie een rooi oog in die hoek van enige kamer nie

daar was nie een traan in die rondawel nie

 

Ons het gasverwarmer-water bietjie-bad gehad

En in die dam geswem

Grasvoete haastig by die agterdeur afgevee

Haastig om weer uit te hardloop

 

Ek het nie eers gedink aan dood of seerkry of val nie

My groottoon het baie pleisters op gehad van hardloop

My bene het fietsgetrap en boomgeklim

My arms het geswaai en gegooi

...

Ek weet niks van Traaifiena af behalwe dat sy hardwerkend en gaaf was nie

ek het nie haar kleinkinders ontmoet of saam met hulle gespeel nie

ek kan tot vandag toe nie hulle taal praat nie

ek wonder of ons vriende sou kon wees

 

ek weet nie of Traaifiena in die aande ook noodwendig op ‘n hoë bed wou slaap nie

maar haar bed was ook hoog oor die Tokkelossie ... hoor ek

ek was nooit in haar huis in nie ... daar anderkant by die stroois ...

en ek is nie seker of Phineas die Mercedes sou wou afry see toe nie

 

Ek weet nie wat Traaifiena se regte naam was nie

En ek weet nie of die rose beter gegroei het omdat Phineas hulle natgegooi het nie

Traaifiena het my getroos toe ek my vingers op die koolstoof gebrand het

Sy’t sunlight seep op my vinger se blaas gesmeer en die brand was weg

Phineas was geduldig met my toe ek die krismisrose met my stok geslaan het

 

Maar ek is so teleurgesteld

En my hart soms is die pikswart turf wat die kragstasies

tussen Bethal en Standerton kom wegskraap het

My trane is die vuil water in ons dorpe

Rommel soos kosmosse teen ou doringdrade

 

Ek is so moeg vir al die gemors in die strate en die ongeskiktes

Ongeskikte mense wat niks meer voel nie ... ry voor my in

Vat my links verby

Stop nie werklik by die stopstraat nie

Stop enige plek

Ry as dit nie jou beurt is nie

Druk voor my in die ry in

 

Ek is so moeg vir die mense wat vir my wag by die robotte

Honderde mans wat hulle troffels en kwaste in die gras steek op die hoek

Duisende mense wat oopoog dood in die strate loop en suffer soos zombies

Soos in die movies

 

Teleurstelling is ‘n koue uitgeholde pampoen met ‘n fake gesig vir die heksenag

Dit is die leë boksie sigarette as jy dit oopmaak

Dis die spaarblikkie sonder tinkel

Dis die bankrekening wat leeg is

Dis die suur sluk melk

‘n pap wiel

‘n ou vriendskap wat doodloop

‘n vrot eier – stink stink stink

‘n eerste spataar

‘n gebreekte tand

‘n kind wat druip

‘n bang nood ... ‘n skuldige gewete oor iets wat jy nie moes gesê het nie

 

En dan is jy teleurgesteld

 

Maar Traaifiena het vir my putupap met baie bruinsuiker ingeskep

En Phineas het my kop gevryf as ons tuingemaak het

Hulle het gemaak asof ek nie ‘n witmens was nie

Hulle het nie dwelms gebruik en my ouma vasgebind en met ‘n strykyster gebrand nie

Hulle het nie my oupa met ‘n byl op die stoep aangeval nie

 

En ek is so teleurgesteld

Want ek het niks!

en Traaifiena en Phineas is dood

En my ouma en my oupa ook

Net soos al die baie arm en ou swartmense en geelmense en bruinmense wat niks het nie

En witmense wat niks het nie

 

Teleurstelling is die wreedste emosie op aarde

 

Jy kan my liewer bangmaak of los

Jy kan my ignoreer of vir my lag

Jy kan my slaan of afskeep

En jy kan my beledig of spot

 

Maar die een rede waarom ek sal moedopgee op hierdie aarde

Is die verskriklike pyn wat kom soos ‘n dief in die dag

As jy my teleurstel

 

Vriendelike stil lem tussen my ribbes terwyl jy in my oë kyk en glimlag


No comments yet.
(*) Required fields
Copyright ©2019 Lourensbreytenbach.com, All Rights Reserved
This website may use Cookies
This website may use Cookies in order to work better. At anytime you can disable or manage it in your browser's settings. Using our website, means you agree with Cookies usage.

OK, I understand or More Info
Cookies Information
This website may use Cookies in order to work better. At anytime you can disable or manage it in your browser's settings. Using our website, means you agree with Cookies usage.
OK, I understand